Die Anties Bring hoop

'n Brief van die Anties
As die droogte op my werf intrek, begin ek as vrou dinge anders aanpak. Aanvanklik voel dit asof ek met 'n plank geslaan is. Hoekom het ek so lank gevat om te besef dat dit nou regtig droog is? Die genadewater van bo is skoonveld. Steeds probeer ek om my tuintjie nat te lei. Eers drie keer per week, toe net twee keer. Later net een keer. Die water is skaars en ek moes aanpas. Van my mees kosbare plantjies moes ek maar in potte plant. Ek het alles nader aan die huis geskuif in die hoop dat ek my plante kan red.
Die besproeiing-stelsel lê skielik nutteloos rond; dit word nie meer gebruik nie. Ek probeer die bietjie oorlewende plante met 'n klein gietertjie water red. Die res het gevrek.
Tog hou ek moed want die reën sal kom. Dit moét.
Ek sien hoe my man se skouers hang as hy oor die werf stap. Sy plaas wandelinge is nie meer so doelgerig soos wat ek dit ken nie. aar is 'n swaarmoedigheid in ons huis. En die beseffing dat dinge buite sy beheer is.
Ek maak die vrieskas oop. Kos bring altyd 'n bietjie troos. Die lekker braaivleis is op; ons is al maande sonder die luuskhede van blad-of boudvleis. Die vaal vleis in die vrieskas raak min. Ons weet, die slag gaan ons nie sommer weer kan slag nie. Elke skaap wat nog oor is, is brandmaer, nes die dorre veld waarin hulle loop. Om elke dag kos op die tafel te sit, voel soos 'n "MasterChef Mystery Box". Dit is nou 'n stryd van kreatiwiteit en oorlewing.
My eie voorkoms begin ook aan my te knaag. My naels is in 'n slegte toestand. Ek kan die gryshare nie meer wegsteek nie. Daar is eenvoudig nie geld vir dinge soos mooi lyk nie. Een of ander tyd sal ek dorp toe moet gaan om proviand aan te vul. Miskien kan ek vir my man 'n sjokolade koop – net 'n klein bederfie om sy dag 'n bietjie beter te maak. My uitgerekte, oorgewaste bra’s is darem nog goed vir 'n rukkie langer.
Dit is in hierdie tye van beproewing wanneer 'n mens se karakter werklik getoets word. Die droogte tas nie net ons land en vee aan nie, maar ook ons gees. En tog, te midde van al die swaar, is daar steeds 'n ligstraaltjie van hoop.
Die belofte dat die reën sal kom, dat daar weer vrugbaarheid sal wees -dít hou ons aan die gang. Dis moeilik om die balans te hou tussen praktiese oorlewing van elke dag en die emosionele las wat dit op ons gemoed lê, maar ons hou vas aan mekaar en aan die wete dat selfs in die droogste seisoen sal die lewe weer opstaan uit die as.
Boervroue inspireer my. Daarom na lang gesprekke met my Abba Vader, stel ek DIE ANTIE’s SE KUNS KARDOESE met gratis kuier-en handwerk oggende bekend. Ons is 'n paar ouer dames (anties) wat vir vroue op droogtegeteisterde dorpe gaan kuier en gratis kunsklasse gaan aanbied.. Ek het self grootgeword in 'n boerdery-gemeenskap, waar ons skole en besighede gesluit het om saam te gaan bid vir reën.
Die emosionele impak van droogte bring 'n innerlike stryd na vore wat moeilik beskryf kan word. Droogtes raak nie net die aarde nie, maar ook die mense wat daarop ‘n bestaan maak. Al is boervroue sterk, sukkel hulle – iets wat almal wat so 'n ervaring deurgemaak het sal verstaan. Hiermee nooi ek jou uit om deel te word van DIE ANTIES - ‘n uitreik na boervroue projek. Dit is ons manier om weer hoop en kreatiwiteit terug te bring in die lewens van dié wat elke dag sukkel teen die gevolge van droogte. Die doel: om weer so bietjie kleur en ‘n hoopvol gevoel in hul lewe terug te sit. Reën kan ons nie na hulle bring nie, maar verf en kuns wel. En saam met dit ‘n omgee van onskatbare waarde.
As jy wil deel wees van hierdie ongeloooflike uitreik projek kan jy dit doen op een van die volgende maniere: Jy kan 'n Ambassadeur word vir “DIE ANTIES”, 'n Boervrou kunsboksie borg of selfs saam ons kom toer vir die 21 dae of 'n gedeelte daarvan!
Vir meer inligting, stuur 'n WhatsApp aan Mariëtte by 082 085 9492.
Ons vra ook gebede van almal. Ons vra dat ons ABBA Vader die projek sal seën en ons hande omhoog sal hou. Ons bid vir wysheid en krag om Sy woord te kan uitdra op hierdie 21 dae lange toer na die boervroue. Alle eer aan God ons Heer.
Boere Liefde Mariëtte
xxxx